
Camerata Tinta Barocca barok-orkes bring barok-musiek aan jonger generasies by die Matikama Musiekweek
Die Hoërskool Vredendal, in samewerking met die Camerata Tinta Barocca barok-orkes, bied die Matzikama Musiekweek van Maandag, 25 April tot Vrydag, 29 April aan.
Erik Dippenaar dien as direkteur van die orkes en is bekend as ’n vooraanstaande klavesimbelspeler. Hy was by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees saam met Stefan Temmingh in die musiekproduksie Corelli á la Mode, wat vir ’n Kanna genomineer is.
Nadat hy sy BMus aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, het Dippenaar sy nagraadse studies in Londen voortgesit, waar hy sy meestersgraad, ’n diploma en werksondervinding ontvang het by die Royal College. Hy was daar vir sewe jaar en is nou al vir vier jaar terug in Suid-Afrika en versprei barok-musiek in die land.
Dippenaar vertel met ywer van die Camerata Tinta Barocca barok-orkes. “Vier jaar terug het ons met die hulp van ’n private befondser begin met ’n jaarlikse opvoedkundige uitreiktoer. Vir die afgelope twee jaar sentreer dit rondom Vredendal en Van Rhynsdorp,” vertel Dippenaar. Vanjaar gaan sowat 700 leerders van tien skole in die streek die kans kry om die musiek van die orkes te hoor en self instrumente te bespeel.
Dippenaar beskryf die orkes as ’n ensemble van instrumente en sangers, wat spesialiseer in periode-instrumente. “Ons speel musiek op kopieë van instrumente uit die tyd wat die musiek kom. Ons speel meestal barok-musiek uit die eerste helfte van die 18de eeu.” Die orkes bestaan uit vyf musikante, naamlik Dippenaar, die sopraan Lente Louw, Caroline Walters op die blokfluit, Cheryl de Havilland met haar baroktjello en die luit-, theorbe- en barokkitaar-spesialis Uwe Grosser.
Die orkes is ingestel op die opleiding in- en verspreiding van barok-musiek onder jonger generasies. “Ons doen werkswinkels met klasse oor historiese musiek en individuele lesse, sowel as meester klasse in sang, blokfluit en klavier, maar ons vat ook ons instrumente saam.”
Dippenaar is passievol oor musiek en veral hierdie genre van musiek. “Vandat ek kan onthou, wou ek musiek gemaak het en die eerste keer wat ek ’n opname gehoor het van barok-musiek op historiese instrumente, was dit vir my asof die aarde oop gegaan het. Ek kan daai oomblik spesifiek onthou.”
Dippenaar het onlangs vir ’n maand saam met Stefan Temmingh getoer en het groot gehore getrek en hy voel dat daar ’n defnitiewe belangstelling in barok-musiek in Suid-Afrika is.
Die hoogtepunt van die Musiekweek gaan twee vertonings deur die Camerata Tinta Barocca barok-orkes wees op Dinsdag, 26 April en Donderdag, 28 April.
Dinsdagaand om 19:00 word musiek van Handel, Corelli, Castello en Caccini aangebied. Hier gaan ’n oorsig van barok-musiek van die begin van die 17de eeu tot middel 18de eeu gegee word, met hoogteopnte van 150 jaar van barok-musiek.
Donderdagaand tree die orkes om 18:30 saam met musiekleerders van die Hoërskool Vredendal op, waar die vyf kunstenaars met die leerders kombineer. “Ons het vooraf musiek aan die skool gestuur om voor te berei, so daar sal solo-items en ook groot ensemble-items wees wat almal saam op sal voer,” vertel Dippenaar. “Dis vir ons belangrik om saam met die studente te speel.”
Die bemarking van die projek word deur die Madeliefie Makietie ondersteun en meer inligting oor die konserte en meesterklasse is by www.madeliefiemakiete.co.za beskikbaar.
CLICK HERE to submit your press release to MyPR.co.za.
Track Your Press Release HERE:
Check Online Visibility
Verify where this release is currently indexed:

